GOD GEE VREDE... | |
  |
Die lewe word dikwels teen 'n koorsagtige pas aangepak. Ons lewe in 'n wêreld wat persoonlike prestasies en sukses op elke gebied beklemtoon, van gesondheid en verhoudings tot besigheid en lewenstandaarde. 'n Vinnige blik na die rakke van boek-winkels sal jou probeer oortuig dat jy enigiets kan doen en enigiets kan wees wat jy wil, as jy maar net hard genoeg wil probeer. Sodoende strewe mense al hoe meer daarna om suksesvol te wees, maar ervaar nogtans nooit dat hulle wel suksesvol is nie. En hierdie strewe na persoonlike sukses vloei ook oor na ons geestelike lewe. Die goeie nuus is dat ons as Christene, ons kan losmaak van alle strewe en liewer vir God vra om ons deur Christus met Sy vrede te vul en om orde te bring uit die ongeordende kolk waarin die moderne lewe ons dompel. Ons kan berus in die voltooide werk van Christus op Golgota, in die wete dat ons niks meer kan doen of hoef te doen om gered te word en om God se liefde te geniet nie. Ons weet dat ons Christelike lewenswandel een van voortdurende groei na volwassenheid is, maar selfs hierin het ons God se teenwoordigheid deur Sy Heilige Gees om ons te help en te lei, want Hy lei ons op die regte pad wanneer ons ons aan Hom oorgee. Daarom kan ons ons angstige strewe laat vaar en toelaat dat Sy vrede ons besorgde gemoed stilmaak. Gebed kan ons help om vrede te midde van die chaos te vind, kalmte te midde van ons inspanning. Namate Hy orde in ons lewe bewerkstellig en vrede in ons harte bring, word ons lewe 'n getuienis van Sy vrede en skoonheid aan dié rondom ons wat steeds vasgevang is in die web van beangsde bedrywigheid wat die wêreld om hulle span. Stort U dou van kalmte uit totdat al ons strewe staak; bevry ons siel van angs en nood en laat ons lewe verwoord hoe U vrede ons aanraak. (JG Whittier). [Uit: Gebede en Oordenkings, Christian Art Gifts, 2003]. |